Subscribe to our Newsletter

Baadjies en Beanies saam met Radio Tygerberg 104fm en Shiloh Synergy

Aan die begin van die Nuwejaar kyk die VRCID se Maatskaplike Ontwikkelingspan terug na die afgelope jaar met dankbaarheid en getuig dat dit ‘n goeie jaar was!

“Alhoewel daar gedurende 2019 nie ‘n tekort aan uitdagings was nie, was dit ‘n jaar waarin ons daadwerklik na ons straatmense en straatkinders uitgereik het – asook na die omliggende gemeenskappe waarvandaan hulle kom”, sê Wilma Piek, VRCID se Maatskaplike Ontwikkelingsbestuurder.

“Ons is baie trots op die werk wat ons veldwerkers in 2019 gedoen het, maar terselfdertyd ook baie dankbaar vir al die hulp-lewerende organisies (“NGOs”) se hulp om mense suksesvol in hulle nood by te staan. Hierdie bystand het by tye voorkom dat mense op die straat beland, en in ander gevalle het dit ons bemagtig om mense wat reeds op die straat was te kon help om ‘n beter heenkome te vind.  Ons kon ook heelwat mense gedurende die jaar help om die nodige mediese dienste, identiteitsdokumente, maatskaplike toelaes, psigo-sosiale dienste, ens. te bekom.  Broodnodige tydelike akkommodasie is ook deur die plaaslike nagskuilings (Bellville Haven en Elim Nagskuiling), MES Safe Space en TASP (Winter Gereedheidsprogram) gebied,” vertel Wilma verder (lees gerus meer oor hierdie prestasies in ‘n vorige blog).

 

 

Die VRCID se Maatskaplike Ontwikkelingspan het gedurende die afgelope jaar op die volgende drie aspekte gefokus:

  • Bewusmaking van Verantwoordelike Gee/Doen Goed Beter, asook meer uitreik- en samewerkingsprojekte in die gemeenskappe, met die doel om weer ‘n gevoel van waardigheid aan straatmense, straatkinders en weerlose mense te vestig.
  • Groter fokus en aandag op die identifisering en benutting van voorspelbare inkomste- en vaardigheidsontwikkelingsgeleenthede.

Die VRCID het meer ondersteuning aan hulp-lewerende organisasies (“NGOs”) gebied.  Sonder hulle deurlopende ondersteuning kan die VRCID nie die gemeenskap se straatmense en straatkinders effektiewelik help nie.

 

 

Wilma en haar span wil in 2020 op hierdie prestasies voortbou en nooi alle plaaslike besigheidseienaars, sakemanne en gemeenskapsleiers om hande te vat, en saam met VRCID hierdie belangrike pad te loop.

VRCID is baie opgewonde om in samewerking met Radio Tygerberg 104fm en Shiloh Synergy die Baadjies en Beanies te loots. Baadjies en Beanies is ‘n fondsinsamelingsprojek met die doel om gedurende April goeie gehalte baadjies en mussies (beanies) in te samel.  Die ingesamelde kledingstukke gaan dan tydens die koue, nat wintermaande aan vooraf geïdentifiseerde behoeftiges via Shiloh Synergy en die VRCID se Maatskaplike Ontwikkelingspan, versprei word.

Die projek vra dat gemeenskapslede skoolbaadjies, reënjasse, warmbaadjies en werksbaadjies in enige kleur en styl skenk – mits in a goeie toestand.

“‘n Baadjie is nie slegs ‘n kledingstuk nie – dit is ‘n stukkie trots, ‘n stukkie omgee. Dit is die glimlag net voor iemand uiteindelik ‘n werkonderhoud kry. Dit is ‘n kleinding se lag wat tevore nie skoolklere kon bekostig nie en die lekker van mooi voel vir ‘n jong meisie,” voeg Wilma by.

Maak dus seker dat Baadjies en Beanies in groot letters op jou skool-, werk- of kerk se uitreikkalender aangeteken is, sodat jy die projek kan onthou wanneer jy binnekort jou gesin se winterklere uitpak. Of, begin solank brei aan heerlike warm beanies – oud en jonk sal dit in die komende wintermaande baie waardeer.

Meer besonderhede oor die Baadjies en Beanies projek sal binnekort bekendgemaak word op die VRCID webblad en Facebook bladsy. Vir meer inligting oor VRCID se werksaamhede, kyk gerus na hul nuutste video.

Indien jy betrokke wil raak by die Baadjies en Beanies projek, kontak asseblief:

  • Wilma Piek, Maatskaplike Ontwikkelingsbestuurder by VRCID: 083 294 3667, of stuur ‘n epos aan haar by piek@vrcid.co.za.

Surita Cowley, Bedieningshoof by Radio Tygerberg: 086 110 4104, of stuur ‘n epos aan haar by surita@104fm.co.za.

Get Updates And Stay Connected - Subscribe To Our Newsletter