Subscribe to our Newsletter

Voorloper vir Voortrekkerweg gesels

Derek Bock is die bedryfshoof van die Voortrekkerweg Stadsverbeteringsdistrik (VRCID) in die noordelikse voorstede van Kaapstad. Die VRCID is in 2012 gestig en het groei en positiewe verandering in die Voortrekkerweg-gebied in Parow en Bellville meegebring. Bock is uitgevra oor hul reis tot dusver en die visie vir die toekoms.

Wat is die VRCID?

 Ons is 1 van 35 stadsverbeteringsdistrikte in Kaapstad. Elke distrik probeer veiligheid en netheid te verbeter, en om maatskaplike opheffingswerk te doen. Kommersiële eiendomseienaars betaal ’n heffing vir dié ekstra dienste.

  

Wie is die belangrike rolspelers?

Vir maatskaplike opheffing is dit die Stad Kaapstad se departement van maatskaplike ontwikkeling, en dan nieregeringsorganisasies soos MES, Tygerbergvereniging vir Straatmense, Elim-nagskuiling en The Haven-nagskuiling.

Vir netheid is dit die munisipaliteit se departement van afvalbestuur. Vir sekuriteit is dit die stad se wetstoepassingsafdeling en die SA Polisiediens.

  

Hoe het die gemeenskap tot dusver by die VRCID baatgevind?

Vir die sakegemeenskap het eiendomswaardes oor die afgelope vyf jaar dramaties gestyg en ons het ’n groot rol daarin gespeel. Dit is ’n sterk verkooppunt vir ’n sake-eienaar om te kan sê jou onderneming is binne ’n stadsverbeteringsdistrik.

Ons span vir maatskaplike ontwikkeling werk nou saam met MES om werkgeleenthede vir haweloses te vind. Ons patrolliespan bied bykomende oë en ore op straat om ’n groter bewustheid van veiligheid en sekuriteit te skep.

  

Watter veranderinge het Bellville en Parow al ervaar sedert die stigting van die VRCID?

Daar is ’n nuwe trekpleister vir toekomstige ontwikkeling. Ons het ’n positiewe beeld van die gebied geskep vir sake-eienaars en beleggers.

  

Wat is jul visie?

Om dinge beter en anders te doen om seker te maak die gebied is ’n veilige en skoon plek om in te werk en lewe.

  

Wat is die grootste uitdagings wat voorlê?

Ons is nie die primêre diensverskaffer vir veiligheid en sekuriteit nie. Ons span kan nie oral wees nie. Om dit op te los, kry ons al die rolspelers weekliks bymekaar vir bestuursvergaderings met die polisie en wetstoepassing.

Oorspronklik gepubliseer in Die Burger op 20 Mei 2017.

Get Updates And Stay Connected - Subscribe To Our Newsletter