Subscribe to our Newsletter

VRCID Wêreldopruimdag

In antwoord op Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, se uitdaging om mense bewus te maak van die belangrikheid van ‘n skoon omgewing, het die Voortrekkerweg-stadsverbeteringsdistrik (VRCID) ’n bewusmakingsveldtog in die Bellville- en Parow-gebiede van ons gemeenskap van stapel gestuur. Hierdie veldtog was ’n poging om die aandag van ons gemeenskap te vestig op die hoeveelheid rommel wat daagliks op ons strate opgetel word en om die klem te plaas op die noodsaaklikheid daarvan dat die publiek moet saamwerk om ons omgewing skoon en leefbaar te hou.

Tussen Julie 2022 en Junie 2023 het die VRCID ’n enorme 813 ton rommel ingesamel – dit is 162 647 sakke rommel! Hierdie prestasie sou nie behaal kon word sonder die hulp van ons diensverskaffer, Securitas en toegewyde vennoot, MES (Mould. Empower. Serve.) nie, wat ’n addisionele bydrae van 89 ton tot hierdie indrukwekkende syfer gelewer het.

Volgens Hardus Zevenster, Voorsitter van die VRCID, het ons land geweldig baie uitdagings waarvan almal terdeë bewus is. “Die frustrasie is egter dat ons as gewone landsburgers nie altyd direk beheer het daaroor nie. Ons het egter almal direkte beheer oor hoe skoon ons omgewing kan lyk. ‘n Vullisvrye omgewing verander die ingesteldheid van ‘n gemeenskap onmiddellik.”  Zevenster sê gemeenskap transformasie begin by die klein, maar noodsaaklike dinge soos om net rondom jou skoon te maak. “Kom ons kies om ons gemeenskap skoon te hou en begin sodoende ‘n positiewe transformasie van hoe ons kyk na ons omgewing” sê hy.

Op Vrydag, 15 September 2023, het die VRCID ’n dramatiese stap geneem om die omvang van die rommelprobleem in ons gemeenskap op tasbare wyse aan die publiek te wys, want die spreekwoord sê immers “sien is glo”. Al die rommel wat in een dag deur die VRCID in ons strate opgetel is, is op die parkeerterrein voor Tygerberg 104FM afgelaai. Hierdie treffende demonstrasie het as bewys gedien van die uitdagings waardeur ons gemeenskap daagliks in die gesig gestaar word en het die VRCID gemotiveer om opnuut die publiek se samewerking te versoek vir ’n skoner en gesonder omgewing.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat mense so rommel strooi en verwag dat ander mense dit moet optel.  Dit is nie net individue wat rommel strooi nie, maar ook besighede binne die VRCID, veral binne die Bellville stadskern” sê Derek Bock, Hoof Operasionale Bestuurder van die VRCID.  Bock doen verder ‘n beroep op gebou-eienaars om seker te maak hulle huurders strooi nie rommel nie. “Hulle kan nie net terugsit en hulle huur ontvang en dink rommelstrooi deur hulle huurders is aanvaarbaar nie,” sê Bock.

Die veldtog is van stapel gestuur ter viering van Wêreldopruimdag, wat wêreldwyd op 16 September gehou word. Ons wil ’n beroep doen op die gemeenskap om saam te kom en hand by te sit om ons strate skoon te maak en skoon te hou.

Die VRCID wil graag al ons gemeenskapslede, vrywilligers, SECURITAS en MES bedank vir hul onbaatsugtige bydraes en ondersteuning, nie net tydens hierdie bewusmakingsaksie nie, maar elke dag.  Ons het egter die publiek se samewerking nodig om werklik ’n verskil te maak en ’n omgewing te skep waarop ons almal trots kan wees.

Laastens, ons nooi almal uit om op 16 September 2023 deel te neem aan die Wêreldopruimdag-aktiwiteite. Laat ons saamwerk vir ’n skoner en leefbare Bellville en Parow.

 

Get Updates And Stay Connected - Subscribe To Our Newsletter